Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » " Onder vier oë..." deur Jo-Ann Floris
" Onder vier oë..." deur Jo-Ann Floris [boodskap #110966] So, 20 Augustus 2006 12:32
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Onder vier oë: 'Ek wil die Afrikaner bevry'
Aug 18 2006 06:12:55:040PM - (SA)

Jo-Ann Floris

Wat is dit met name in Potchefstroom wat maar net nie dieselfde wil bly
nie?

Die burgemeester lag lekker uit die maag uit.

Want terwyl dit in die stad en in die media gons oor die voorgestelde
verandering van Potch se naam, het hy ook nie op hom laat wag om 'n
naamsverandering in die kleine op homself te trek nie.

Dit was as mnr. Andrew Maphetle dat hy aangeteken is toe hy op 1 Maart
vanjaar verkies is tot uitvoerende burgemeester. Maar dis as Maphetle
Maphetle dat hy deesdae op alle vorms verskyn.

"My pa wou my nie regtig Andrew noem nie, maar toe hy my destyds wou
registreer, het die beampte gevra ' What's his Christian name?'
Toe noem hy my maar Andrew," vertel dié seun van 'n bruin ma en
'n Pedi-pa wat homself 'n Noord-Sotho noem.

Dít was die maklike deel van sy naamsveranderingsproses. Nou om die
naamsverandering van Potchefstroom na Tlokwe deurgevoer te kry.

En om vure dood te slaat oor hy sou gesê het die jaarlikse
Aardklop-kunstefees wat in Potch gehou word, verteenwoordig nie genoeg
van die kulturele rykdom van die stad nie . . .

Maphetle (42) lyk koel en beheers in sy donkergrys pak en
lemmetjiegroen hemp waar hy by 'n tafel in sy kantoor gaan sit.

In die ander hoek van die kantoor lê die lessenaar wit van dokumente,
leggers en vorms. Hy was drie dae uit die kantoor vir 'n lekgotla en
kyk hoe lyk die plek, maak hy verskoning.

'n Geraamde foto van sy kinders klou aan 'n hoekie van die
lessenaar vas.

"Twee meisies en 'n seun," beduie hy. "Dis ook maar goed my
vrou, Busi, hou die huis aan die gang. My een dogter wat in gr. 8 is,
het nou die dag vir my gesê sy wil nooit enige van my beroepe volg nie
- nie onderwys nie en ook nie politiek nie, want dit maak dat jy jou
familie min sien."

Hy is die jongste van nege kinders, die enigste in die gesin wat kon
beskostig om matriek te voltooi en verder te gaan studeer ­ - tale
aan die destydse Universiteit van Potchefstroom (nou die
Noordwes-Universiteit), toe 'n meestersgraad in menslike
hulpbronbestuur aan die RAU (nou die Universiteit van Johannesburg).

In 1996 is hy aangestel as kommunikasiehoof in die
Noordwes-onderwysdepartement se suidstreek en dien in die
ANC-streekbestuur se uitvoerende raad.

Dis nou net ná 09:00 en Maphetle kom pas uit 'n vergadering. Die
koel houding maak plek vir 'n verskonende glimlag: "So, kan ons
Afrikaans praat, want julle is mos 'n Afrikaanse koerant? As ek 'n
ander taal praat, dan verstaan julle my dalk nie so mooi nie en netnou
lees die mense goed waar ek ander dinge sê as wat ek bedoel het."

Mense sê juis die munisipaliteit dreig om hom aan Aardklop te onttrek
omdat die fees te wit en Afrikaans is?

"Nee, nee, nee," keer hy onmiddellik.

"Potchefstroom is die land van Aardklop. Toe ek gesê het dinge by
die fees moet verander, het ek nie bedoel daar moet weggedoen word met
Afrikaanse kultuur nie, ek het gesê die fees moet uitgebrei word om
alle kulture hier in te sluit."

Hy sien op vanjaar se Aardklop-program is daar weer jazz in Ikageng en
een dramastuk in Tswana. Hy skud sy kop.

"Waar is mense soos Joe Mafela ('n bekende komediant), waar is die
Indiër-kultuur wat so ryk en kleurvol is? Wat kan ons mense bied wat
vertel van die bruin mense se kultuur?" begin sy hande saamgesels.

"Hulle moet nie daar doer op die rante gelos word nie. As ons praat
van Potchefstroom, moet dit outomaties wees van al die inwoners wat die
stad maak wat dit is. Noordwes is ryk aan cultural diversity; dis nie
reg dat ons nie alles met almal deel nie,"

Maphetle skuif gemaklik in sy stoel, die praat-kraan nou goed
oopgedraai.

"Afrikaans, Afrikaans. Ek praat hom, jy praat hom. Die taal gaan
nooit doodgaan nie, ons kinders gaan hom ook nog praat, want hy is mooi
en hy praat lekker.

"Hoekom nie die fees uitbrei nie, wil ek weet. Al is daar hoeveel
ander produksies, die dag nadat die fees verby is, sal die
Afrikaner-kultuur steeds daar wees. Niemand word bedreig nie; hul
kultuur word tog nie bedreig nie."

Hy wys die vinger na politieke partye wat sy opmerkings oor die fees
gebruik om vrees by veral wit inwoners in te boesem.

"Daai soort politici doen meer skade as enigiemand anders, want hulle
maak dat mense verdeeld bly en laer trek. En ek wil juis hê mense moet
uit daai laers kom sodat ons mekaar 'n slag kan vind."

Die raad se voorstel dat die dorp se naam moet verander word ook deur
sommige mense gesien as iets wat die dorp verder kan verdeel?

"Ek sien my grootste uitdaging as burgemeester as die emancipation
van die Afrikaner hier. Daar is van hul leiers wat speel op die mense
se gevoelens; speel op sagte plekkies soos taal, kultuur, godsdiens.
Hulle gebruik pogings om dié dinge reg te stel wat in die verlede
verkeerd gedoen is, om mense te manipuleer en hulle só bang te praat
hulle wil terugkruip in hul veilige omgewing."

Natuurlik kan hy verstaan dat mense bedreig voel ­- dis 'n
natuurlike ding as dinge verander en jy word skielik gekonfronteer met
nuwe, onbekende dinge.

"Maar dan is dit mos die tyd om te vra as jy nie verstaan nie - en
dit geld nie net wit mense nie. Ek is bereid om daai investment te maak
in mense, en dit was nie vir my maklik om op dié punt te kom nie."

En op dié punt raak hy ook weer aan hoekom hy dink 'n groot deel van
die inwoners ten gunste daarvan is dat die stad se naam verander. Hy
gaan haal die geskiedenis in 1835, toe die Voortrekkerleier Andries
Hendrik Potgieter hier aangekom het.

" 'n Paar dae later, toe is die plek se naam Potchefstroom en die
mense wat hy hier gekry het, is uitgeskuif Makweteng toe. En toe kom
die 1950's en Makweteng word Willem Klopperville en daar moet
Makweteng se mense wéér hulle se goed vat en trek."

Die mense wat nou spot dat die voorgestelde nuwe naam 'n soort bier
is, sluk uit die verkeerde beker, sê Maphetle.

Toe die swart mense uit Makweteng geskuif is Ikageng toe, is die
hoërskool daar genoem Tlokwe Secondary ter ere van die Batlokwe-stam,
een van die oorspronklike inwoners van die gebied.

Toe die destydse regering vroeg in die 1970's 'n brouery begin het
waar sorghumbier gemaak is, is dit eers Mooirivier Sorghumbier genoem.
Die naam is later verander na Tlokwe Sorghumbier.

"Die regering het gesê dis om die inwoners te laat onthou waar hulle
vandaan kom, maar ek weet darem nie. Wat ek wel weet, is dat die geld
wat uit die brouery gemaak is, die dorp help bou het, maar dis net
gebruik om een deel van die bevolking te help. Die swart mense wat die
sorghumbier gekoop het, kan ek jou nou sê, het nie die voordeel van
daai geld gesien nie."

Dít is vir hom die pad wat die stad geloop het tot hier waar die raad
wil hê die stad moet Tlokwe word.

"Van die ou inwoners van Makweteng het met sukses grondeise ingedien,
party het al hul geld gekry. As ek vergaderings met die mense hou, sê
hulle hulle is dankbaar vir die geld, maar wat hulle eintlik wil hê,
is dat hul waardigheid herstel word.

"Dignity . . . as jy dáái ding van iemand wegvat, het jy als van
hom gevat. So as mense vir ons sê 'n naamsverandering kan daai
waardigheid herstel, moet ons dit net meet aan geld, hoeveel dit gaan
kos? Dis 'n priceless thing, priceless," raak sy stem amper 'n
fluistering.

Hy vlam vinnig weer op. Ontken dat die geld vir die naamsverandering
van 26 strate in die stad geld wegvat by ander noodsaaklike dienste.

Ontken daar gaan ontwrigting en verwarring wees.

Sê die voorstede se name gaan nie verander word nie, so inwoners sal
nie hul titelaktes hoef aan te pas nie.

Gryp weer terug na Aardklop.

"Ek weet dié jaar gaan ons die fees met baie spanning afskop, juis
omdat daar al die stories gepraat word oor wat die fees moet wees en
wat hy nie is nie."

Hy krap sy ken, dink so 'n bietjie na. "Ons gaan nie opgaan om
feesgangers te boelie net omdat hulle van 'n ander kultuur is nie.
Almal moet leer om meer verdraagsaam te wees. We must learn to become
our brother's keeper."

Maar dit beteken nié hy gaan net toekyk as iemand met 'n T-hemp hier
rondloop wat sê: "As jy nie Afrikaans praat nie, hou jou bek."

"As ek na die stad kyk, sien ek 'n plek met groot groeipotensiaal,
waar ontwikkeling moet wees tot voordeel van alle gemeenskappe. 'n
Plek waar ons kan terugkyk and can see that we have left a true,
inspiring legacy."

En op dié noot groet hy. Hy moet hom voorberei: die Potchefstroomse
inwonersvereniging kom hom om 14:00 sien om hul besware te bespreek . .
.
Vorige onderwerp: Jissie julle is boring
Volgende onderwerp: Re: vir Norbertjie (discussion in french, praatje in het frans)
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Mei 15 09:52:32 MGT 2024